Smeulende Sting terug na sy wortels...
Sting: GrandWest-arena, Goodwood ****
"'n Mens kan nie waardig oud word in rock 'n' roll nie," het die sanger Nick Cave in 'n 2008-onderhoud gesê. "Jy moet maar skandalig uitklok. Anders eindig jy soos Sting wat luitmusiek speel."
Wat Cave nie besef het nie, maar wat Dinsdagaand vir almal by Sting se konsert in die GrandWest-arena duidelik moes wees, is dat hierdie 16-malige Grammy-wenner en superster van 'n ander, jonger en gesonder planeet as ons gewone armsalige sterflinge kom - hy sal klaarblyklik nooit hoef af te tree nie.
As dit nie die geval is nie, moet daar iets wees aan al die media-gerugte oor sy joga-verslawing en bedrewenheid in die tantriese seks-departement (hoewel Sting laasgenoemde speels op die verhoog ontken het). Die 60-jarige Britse ikoon lyk eenvoudig onbetaamlik jonk; eintlik te goed om waar te wees. In jeans en 'n stywe grys T-hemp was daar geen teken van vet of slap, moeë vlees aan die voormalige voorsanger van The Police te bespeur nie.
Hy het ook nie die vol saal op enige van sy luitmusiek met klassieke pretensies getrakteer nie - die hele idee agter sy huidige Back To Bass-wêreldtoer is om terug te keer na sy wortels as baskitaarspeler en sanger.
Met 'n kookwatergroep van ses musikante agter hom het hy dan ook die waarderende gehoor meer as twee uur lank vermaak met 'n eklektiese keur van oud en nuut totdat die dansende skare hom vir drie toegifte teruggejuig het.
Nadat Sting (Gordon Sumner vir sy ma) energiek begin het met drie groot treffers - 'All this Time', 'Every Little Thing She Does Is Magic' en 'Englishman in New York' - het 'n mens toenemend onder die indruk van sy veelsydigheid as sanger-liedjieskrywer gekom.
Die man het nie net 'n fenomenale, onmiskenbare stem nie, maar as komponis is hy ewe vlot in pop, rock, funk, jazz en folk hy kan selfs 'n bietjie country gooi as dit moet, soos hy gewys het met 'Love Is Stronger than Justice' wat geëindig het met 'n heerlike hondsdol vioolsolo deur Pete Tickell.
'n Mens vermoed egter die Police se immergroen, reggae-gegeurde mengsel van pop-rock is sy musikale moedertaal. Sting se solo-loopbaan het sedert 1985 verskeie hoogtepunte opgelewer, maar iewers in die middel van die konsert het die indruk ontstaan dat jy na die virtuose styl en vingeroefeninge van 'n hoogs begaafde popkunstenaar luister wie se inspirasie hom soms in die liriekafdeling versaak.
Met opruiende weergawes van die ou Police-treffers 'King of Pain', 'Roxanne' en 'Every Breath You Take' in die eerste toegif was alle bedenkinge egter vergete en alle oë op die lenige blonde sanger.
Want dit is met hierdie smeulende, klassieke liedjies oor die obsessiewe kant van begeerte dat Sting sy plek in die Rock and Roll-heldesaal deur en deur verdien het.
(c) Die Burger by Danie Marais